top of page

Hezia Tsiýon

Sionsbruid
Omnibus ~ Sionsdogter | Sionsvrou | Sionsbruid

Binnekort beskikbaar!

 

Genre: Outobiografiese roman

Bladsye: 480

Formaat: Sagteband

​

Jy sal hierdie die boek nie kan neersit nie! Ons is baie opgewonde om hierdie nuwe boek binnekort bekend te stel.

 

Sionsbruid Omnibus vertel die ware verhaal van Roxanne Hogan, jongste van agt, wie se lewe vanuit die staanspoor stormagtig en vol uitdagings is. Ons leer haar ken waar sy as driejarige met asma diagnoseer word, ʼn familiesiekte wat vele van haar voorsate geëis het. Die asemnood slaan telkens toe wanneer sy angstig raak onder die geweld van ʼn humeurige pa wat homself aan drank en vroue vergryp. Haar ma is haar toevlug, ʼn sterk vrou wat haar altyd wend na die Een wat alles weet.

Lewenslustig, astrant, vol planne en waagmoed, is Roxy ʼn karakter wat diep in jou hart sal kruip. ʼn Mens staan verdwaas dat soveel dinge met een persoon kan gebeur! Ons ervaar elke seisoen van die lewe saam met Roxanne. Haar storie neem ʼn wending wanneer sy met ʼn “man van God” trou, maar, soos haar pa en broers, ʼn verwronge beeld van mans aan haar bekendstel.

Sionsbruid voorblad1-v2.jpg

Haar oortuiging dat alle mans dieselfde is, vorm haar wêreld, een waar die sondes van die vaders aan die kinders toegereken word en waar die God van die Bybel met hel, swael en vuur oor die aarde heers. 
Dan, wanneer haar wêreld inmekaartuimel, ontmoet sy Hom in persoon – Jesus, die perfekte Man van die Bybel, met sy septer na haar toe uitgereik. Sy salwing op haar lewe onderrig haar en op eg hardekwas Roxanne manier, vat sy die bose magte in haar en haar familie se lewens trompop aan. Haar geestelike soektog na die waarheid wat werklik vrymaak verloop parallel met verbysterende ontdekkings wat haar brose hart herhaaldelik breek. 
Sal sy kan leer om die man van haar hart onvoorwaardelik lief te hê, hom te eer en aan haar Vader toevertrou, ongeag een groot uitdaging? Sal sy haar ware identiteit as Jesus se bruid aanneem? 
Hierdie boek is soms humoristies en soms ontstellend, maar geestelik lewensveranderend; ʼn boodskap vir die bruid van Christus.

Hierdie boek is nie vir kinders of sensitiewe lesers geskik nie.

Koste: R320 (Aflewering uitgesluit)

Audience of one logos_ssmall.png
bottom of page